Is jy op soek na ʼn egte Bosveldwegbreek naby die stad? Kokoriba Wildreservaat bied die ideale wildkykervaring, skaars wildsoorte, meer as 300 voëlspesies en netjiese verblyf slegs 120 km van Pretoria af. Ontsnap uit die stad se gewoel en ervaar die Bosveld hier om die draai van Pretoria! Lees hier meer.
Deur Kyla-Ann du Toit
ʼn Ongerepte, privaat wildreservaat wat nie te ver se ry van die stad af is nie? Kokoriba Wildreservaat is die ideale vakansieoord waar jy die natuur op jou eie manier en tyd kan verken. Hierdie geliefde plattelandse oord en natuurreservaat kombineer rus, avontuur en ʼn egte bosveldwegbreek, wat ideaal vir gesinne, paartjies en natuurentoesiaste is wat uit die stad se gewoel wil ontsnap.
Kokoriba is gerieflik geleë – slegs 38 km van Brits, 54 km van Rustenburg, 68 km van Sun City en ongeveer 120 km van Pretoria en bied die perfekte wegbreek sonder ʼn lang reistog. Of jy slegs vir ʼn naweek wil wegkom of selfs ʼn langer vakansie wil geniet, by Kokoriba wag daar ʼn unieke natuurervaring op jou.
ʼn Bosveldoord met skaars wild
Een van Kokoriba se grootste aantreklikhede is die vryheid wat gaste het om die reservaat self en op hul eie tyd te verken. Besoekers kan rustig deur die reservaat ry en self wild gaan soek.
Die reservaat is die tuiste van verskeie skaars wildsoorte, soos die indrukwekkende swartwitpense en goue wildebeeste. Wild langs die pad, ʼn stil dam of ʼn onverwagse foto-oomblik, elke rit deur Kokoriba bring ʼn nuwe verrassing.
Hierdie “selfdoen-wildkykervaring” maak Kokoriba ʼn bosveldoord waar jy nie gebonde is aan vaste roetes nie, maar jou eie tempo en avontuur bepaal.
Voëlkyk by Kokoriba
Kokoriba is ook bekend vir sy uitsonderlike voëllewe en is ʼn ware paradys vir voëlentoesiaste. Met meer as 300 aangetekende voëlspesies bied die reservaat uitstekende geleenthede vir voëlkyk, fotografie en ontspanning.
Die voëlkykskuilings is strategies geplaas sodat gaste die natuur kan geniet terwyl hulle seldsame en bekende spesies in hul natuurlike habitat dophou. Of jy ʼn ervare voëlkyker is of net die Bosveld se klanke en bewegings wil inneem, Kokoriba se ryk voëllewe maak elke besoek besonders.
Verblyf- en kampeer-opsies by Kokoriba
Kokoriba bied verblyf vir elke soort besoeker. Van lugversorgde selfsorg-chalets tot staanplekke vir tente en karavane, daar is talle opsies vir gemaklike verblyf én die egte Bosveld-kampervaring.
Die oord beskik oor netjiese ablusiegeriewe met warm en koue water, privaat ablusies by sekere staanplekke, elektrisiteit en veilige omgewings waar gaste met gemoedsrus kan ontspan.
Geriewe en aktiwiteite vir die hele gesin
Benewens wild- en voëlkyk, bied Kokoriba ʼn wye reeks geriewe en aktiwiteite wat dit ʼn ideale gesinsbestemming maak. Die oord beskik oor drie swembaddens, waarvan een ʼn verhitte binnenshuise swembad is, asook ʼn restaurant, ʼn gelisensieerde kroeg en ʼn winkel.
Gesinne kan ook aktiwiteite soos minigholf, tafeltennis en pylgooi geniet. Vir groepsfunksies en byeenkomste is Kokoriba se Makoro ʼn gewilde keuse vir konferensies en spesiale geleenthede.
Kokoriba – die ideale bosveldwegbreek
Kokoriba Wildreservaat bied ʼn unieke balans tussen ontspanning en avontuur, met genoeg aktiwiteite vir die hele gesin. Of jy nou kom om wild te kyk, voëls te soek of bloot vir die hartlike gasvryheid, Kokoriba beloof ʼn bosveldervaring te wees wat jou keer op keer sal laat terugkeer.
Klik hier om sommer vandag nog jou wegbreek te bespreek en ervaar self waarom Kokoriba deur talle Suid-Afrikaners geliefd is.